Oor die jare het sommige woorde se betekenis verander - dan sê jy dalk heeltemal iets anders as wat jy eintlik wou! Ok, so erg is dit ook nie - maar hier onder is 'n lysie van woorde wat jy dink jy verstaan, maar wat eintlik in Nederlands iets anders beteken (of soms net 'n ander nuanse het):
Afrikaanse woord ==> Wat dit beteken in Nederlands ==> Hoe jy eintlik moet sê:
Jammer ==> Word gebruik in die sin van 'ongelukkig': "Ik vind het jammer dat je weg moet". As jy om verskoning moet vra vir iets, sê: excuseert / het spijt me / sorry
Afrikaans ==> Uit Afrika. Nigerië is een Afrikaanse land. Jy kom eintlik van Zuid-Afrika en jy praat Zuid-Afrikaans.
Bediende ==> Klerk. "Hij is bediende by de ministerie van binnenlandse zaken". Die dame wat jou huis kom skoonmaak is 'n poetsvrouw of 'n schoonmaakster.
Vaak ==> Dikwels, gereeld. "Wij gaan vaak uiteten". As jy wil gaan slaap is jy 'moe' of 'slaperig'.
Vervelend ==> Irriterend, lastig. "Die kinderen lawaai en doen vervelend". Iets wat vervelig is, is 'saai'.
Amper ==> Net-net. "Ze kan amper zwemmen" (sy kan al swem, net-net). As sy nog nie kan swem nie, maar sy probeer darem, kan sy 'bijna' swem.
Huiswerk ==> Wat jy by die skool kry. "De kinderen doen ieder dag huiswerk". Jy, of (as jy in SA bly) jou poetsvrou, doen poetswerk of huishouden
Mus ==> Mossie. "Er zijn mussen in de tuin". Wat jy op jou kop sit is 'n muts.
Zeker ==> Definitief. "Ze gaan zeker daar eten". As dit onseker is gaan hulle 'mischien', of 'dalk', daar eet.
Min ==> Minus. "2 min 1 is gelijk aan 1". As jy verwys na hoeveelheid, gebruik 'weinig'.
Kar ==> Waentjie. Waarin jy elke dag werk toe ry is 'n auto of 'n wagen
Kombuis ==> Kombuis op 'n skip. In 'n huis berei jy kos in 'n keuken
Kop ==> Kop van 'n dier. Soos bek is vir mond, is kop vir hoofd. As jy van 'n ander mens praat, gebruik altyd hoofd (behalwe as jy die persoon WIL beledig natuurlik...)
Toon/tonen ==> Wys. "Kunt je me tonen waar je pijn hebt?". Die pienk goedjies aan jou voete is 'n teen / tenen
Aardig ==> Vriendelik, gaaf. "De buren zijn zeer aardig". As iemand weird is, gebruik 'vreemd' of 'eigenaardig'
Lief ==> Oulik. "Mijn dochter is lief". As jy jou meisie wil charm, sê dan "Ik hou van jouw".
Hou van ==> Om lief te wees vir iemand. As jy platonies van iemand hou, sê "Ik vind je leuk" of "Ik vind je lief"..
Dol ==> Hou van. "Ik ben dol op isjes!". Vir iemand wat bietjie mallerig is, sê 'gek'.
Soms ==> Word dikwels gebruik in die konteks van miskien/dalk. "Heb je mijn jas soms gezien?". Soms kan ook gebruik word as 'af en toe', soos ons soms in Afrikaans gebruik.
Vinnig ==> Het dit nog nooit in 'n sin gehoor nie. My woordeboek sê dit beteken 'nippy', 'sharp'. As jy verwys na spoed, gebruik 'snel'. "Wat kan je snel hardlopen mijn kind!"
Stadig ==> Bestaan nie in Nederlands nie. Gebruik langzaam of traag.
Noot/noten ==> Neut/neute. "In de herfst zijn er veel noten in de bos". Dit kan, soos in Afrikaans, ook musieknoot beteken.
Naast ==> Langs. "De vriendjes zitten naast elkaar". Iets wat die naaste is, is die dichtstbijzijnde.
Kuier ==> Stadig loop, wandel. As jy by iemand gaan kuier, gaan jy op 'bezoek'. Woordjie wat ek baie mis - weet nog nie mooi hoe kan jy "Ons het lekker kuier" goed vertaal nie. "We hadden veel genot van het bezoek" het tog nie heeltemal dieselfde 'ring' daaraan nie...
Braaf ==> Mens gebruik braaf meestal tov 'n hond. Dit beteken gehoorsaam. Mens kan ook sê 'n kind is braaf - bedoelende soet, gehoorsaam. Selfs dit is al bietjie negatief. Om te sê 'n man is braaf, is 'n belediging! Dit beteken hy's naief, kinderlik,'simpleminded' in Engels. As jy praat van iemand met baie waagmoed, sê 'dapper'.