Nederlands vir (Afrikaanse) dommies

Uitspraak


Waar begin mens? Jou uitspraak gaan, selfs na jare in die land van oranje, nog nie eg Hollands klink nie. En wat is eg Hollands? Selfs tussen Hollandse Nederlands en Vlaamse Nederlands is daar groot verskille as dit by uitspraak kom - om nie eers te praat van al die dialekte en regionale variante nie!

Maar onthou wat die doel is van hierdie website: om jou meer verstaanbaar te maak. Dit is 'n doel wat al bietjie meer bereikbaar is. Deur paar klanke effe anders uit te spreek, gaan mense jou verstaan (Hollanders en Vlaminge beide) - al gaan jou aksent jou herkoms nog verraai. 

Maak jou Afrikaanse uitspraak so meer Nederlands: 

  1. Hou jou klinkers eentonig

In Afrikaans praat ons nogal rollerig, het ek besef na 'n rukkie in die buiteland. Sê "see". Sien? "See-'n". Sê Kaap. "Kaa-ap". Dit is asof ons lang klanke 'n ekstra bietjie asem gee en so 'n ekstra intonasie, amper selfs 'n tweede lettergreep, skep. Boonop spreek ons ons klinkers nogal 'toe' uit (dit wil sê met geronde lippe).

In Nederlands (Hollands en Vlaams) is die a,e,i klanke plat, eentonig en oop. Fokus dus daarop om jou mondhoeke na jou ore toe te trek as jy 'n klinker uitspreek, en hou die klank eentonig (selfs met dubbelklinkers).

2. ee-klank

Spreek 'n ee uit "êê". See ==> "zêê", eten ==> "êten", nee ==> "nêê".

3. a-klank

Die a-klank is oop en plat. Eintlik is die a-klank presies die teenoorgestelde van die Pretoria-Oos verskoning vir 'n 'a' - dis nie "mô" nie maar "mâ", nie "pô" nie maar "pâ", en jy kom nie van die "Kôôp" nie maar van die "Kââp". Mondhoeke na die ore toe, onthou!

4. i-klank

In Afrikaans spreek ons i soos " 'n " uit. In Nederlands spreek hulle dit amper (maar nie heeltemal nie) soos 'n "ie"-klank uit. Ik ==> "iek", vis ==> iets tussen "vis" en "vies".

5. oo-klank

Alhoewel die 'o' in Nederlands ook met geronde lippe uitgespreek word, word die lippe nie so erg na vorentoe geplaas nie. Die uiteinde is 'n ô-klank, eerder as 'n 'oë'-klank. Byvoorbeeld "boom" word "bôôm", "verkoop" word "verkôôp".

6. s-klank

Baie Afrikaanse woorde wat met 'n 's' begin, skryf mens in Nederlands met 'n 'z'. Die uitspraak is iets tussen 's' en 'z'. Nie so voor op die tong soos 'n 's' nie, maar ook nie heeltemal so "zoemerig" soos 'n "zzzzz" nie. Bv. see ==> "zêê", son ==> "zon".

7. rrrrrrr

My opinie is dat jy jou r maar moet bly uitspreek soos jy hom uitspreek. Ek het in die begin so hard probeer om die Vlaamse brei-r te sê - en soos 'n kat geklink wat haarbolle spoeg. Dis 'n moeilike klank om baas te raak. In Nederland sê hulle nou weer die 'r' soos 'n Engelse "r" (tong agter in die mond, dink "are") - en dit is net so moeilik om presies reg te kry. In my ervaring? Mense verstaan die Afrikaanse 'r'. Reg of nie reg nie! 

8. g!

In België is die 'g' 'n sagter klank as in Afrikaans, dit word nie in die keel gesê nie, maar agter teen die verhemelte. Dink aan die 'j'-klank in Spaans (Don Juan).

In Holland is die g hard, nes in Afrikaans. Selfs nog harder! G dus gerus voort!

Nou kan jy dalk 'n paar Nederlandse Youtube videos gaan kyk om dit in te oefen...dankie tog vir die internet!