Nederlands vir (Afrikaanse) dommies

Oor my


Vrou van een en ma van twee, bly ek al 'n jaar-en-'n-bietjie in België.

My Nederlands is verstaanbaar, maar nie juis goed nie. Tog kan ek met die juffrouens, bure, vriende, winkel assistente en ander mammas by die skool in Nederlands kommunikeer. Nie vlot gesels nie - maar kommunikeer. Sonder te veel misverstande en gefronsde voorhoofde en gesprekke wat na 'n sin of wat Engels toe oorslaan.

Waar ek vir die eerste paar maande hoofsaaklik Afrikaans met 'n Nederlandse kinkel gepraat het, voel dit asof ek nou net-net aan die anderkant van die grens is - asof ek darem al Nederlands praat, al is dit dan nou met 'n Afrikaanse invloed (en aksent). Ek verbuig my werkwoorde, ek kan hoor as iets Afrikaans klink eerder as Nederlands. Maar nou ja, soms gryp mens in die hitte van 'n gesprek na 'n bekende woord  - 'n Afrikaanse woord - wat nie 100% reg is nie. Dis moeilik om die Afrikaans uit jou Nederlands te hou - moeilik om te weet watter 5% van die woorde nie daar tuis hoort nie.

Maar wat vir my saak maak, vir nou, is dat mense my verstaan. Dis soos 'n omgekeerde catch 22 - hoe meer jy praat, hoe beter word jy, hoe meer praat jy, hoe beter word jy. Die moeilike ding is om net eers verstaan te word, sodat jou selfvertroue. of soos hulle in Nederlands sê, jou 'spreekdurf', kan groei. 

Dit bly dit 'n leerproses. Daarom is terugvoer op die website welkom - ek hoop om dit 'n 'work in progress' te hou, en ek hoop om te kan leer van ander se ervaringe en insigte. En hel, ek sit nie elke week deur 'n 4 ure grammatika les vir niks nie - ek gaan iemand anders verveel daarmee! 


Groete, 
Mariette de Meillon