Nederlands vir (Afrikaanse) dommies

Afrikaans vs Vlaams vs Nederlands


Die eerste paar weke in België het ons elke gesprek beleefd begin met: "Dag meneer (/mevrouw). Spreek u Vlaams?"Dit het sonder uitsondering 'n verwarde uitdrukking in die oë, gevolg deur 'n versigtige "uh...ja?" tot gevolg gehad.

Na 'n ruk het ons die hele Vlaams-ding beter verstaan. Die amptelike tale in België is eintlik Nederlands, Frans en Duits - nie Vlaams en Frans en Duits nie. Volgens (moderne) Belge praat hulle Nederlands. Altyd in die openbaar en altyd in professionele situasies.

So wat is Vlaams dan? Belge erken, 'n bietjie verleë, dat hulle met hulle ouers, broers, susters, ooms en tantes soms 'n dialek praat -  wat hulle 'Vlaams' noem. Dikwels is hulle skaam daarvoor - dit word gesien as 'n kombuistaal en meeste moderne en opgevoede mense praat dit nie meer met hulle eie kinders nie. Hulle is bang dat 'n dialek, of 'n verkeerde aksent, hulle kinders eendag in 'n professionele werk kan belemmer. Hulle probeer dus hulle Nederlands so suiwer hou as wat hulle kan.

Die realiteit is dat daar wel heelwat woorde is wat verskil tussen "Hollandse" Nederlands en "Belgiese" Nederlands, of Vlaams. Vra maar vir enige Nederlander wat in België werk! Die verskille is egter ook nie SO baie nie - veral nie onder die jonger en professioneler mense nie.

Dan die vraag: is dit so dat Afrikaans nader aan Vlaams is as aan Nederlands? Ek gee so paar woorde waar ek al verskille opgelet het hier onder - kyk maar self!

Afrikaans ==> Vlaams ==> Nederlands

  • Maak die deur toe ==> Doe de deur toe ==> Doe de deur dicht
  • Hardloop ==> Lopen ==> Hardlopen (in Vlaams is loop 'wandelen')
  • Oggend / Voormiddag ==> ochtend / voormiddag ==> ochtend (voormiddag gebruik hulle glad nie in Nederlands nie)
  • Verwarming ==> chauffage ==> verwarming
  • Laai  ==> schuif ==> la (meervoud: lade)
  • Skoon ==> proper ==> schoon
  • Aardappels ==> patatten ==> aardappelen
  • Hele (soos in die hele nag). In Afrikaans gebruik ons soms 'ganse'. Ganse word dikwels in Vlaams gebruik, maar nooit in Nederlands nie (in Nederlands dus net 'hele')

Volgens my is daar dus baie van die Vlaamse woorde wat in Afrikaans onbekend is - dikwels het dit met die Franse invloed op die Belgiese taal te make. "Propre" is byvoorbeeld Frans vir "skoon". Aan die ander kant is daar woorde soos 'voormiddag' en 'ganse' wat in Standaard Nederlands verlore gegaan het. 


Ek is geen taalkundige nie - maar ek wonder tog waarom daar gesê word dat Vlaams nader aan Afrikaans is - dit is nie vir my waar in die algemeen nie. Maar ek gee toe dat die Vlaamse aksent nader is aan die Afrikaanse aksent - die Nederlandse aksent, veral in Noord Holland en Amsterdam, klink vir my soms amper Brits. Baie 'dik' r klanke en 'n meer binnensmondse praatstyl. 

As iemand 'n meer wetenskaplike antwoord het op die vraag of Afrikaanse woordeskat regtig nader is aan die van Vlaams as aan Standaard Nederlands, laat weet my gerus!



*Edit: En hoe vinnig verander dinge nie! Vanoggend het my Nederlandse lerares opgemerk dat sy al hoe meer en meer mense met pertinente Vlaamse aksente oor die TV hoor. Volgens haar is dit nou weer 'n nuwe gier - 'n aksent maak jou uniek, is deel van jou identiteit, en die gier is op die oomblik om dit te beklemtoon eerder as om dit weg te steek. Interessant, ek hoop my Afrikaanse aksent maak my ok uniek!