Daar is baie verskille tussen Afrikaans en Nederlands - dit gaan lank neem voor jy vloeiend en gerieflik in Nederlands kan kommunikeer. Verstaan kom heel gou - dis die praat wat moeilik is! Maar as jy jou Afrikaans so 'n bietjie 'tweak' kan jy al vinnig eenvoudige gesprekkies voer.
Hier volg die 10 belangrikste dinge om aan jou Afrikaans te verander as jy begin Nederlands leer:
1. Baie:
As jy weer Afrikaans hoor of praat - let op hoe baie mens baie gebruik. Nogal baie, né! Nederlanders ken dit nie, en verstaan dit nie.
Gebruik zeer, heel, of veel.
Voorbeelde:
Ek is baie bly ==> Ik ben heel blij / Ik ben zeer blij
Ek het baie geld ==> Ik heb veel geld
Dis baie lekker ==> Het is heel lekker
Jy is baie mooi ==> Jij bent zeer mooi
2. Lekker:
As mens baie baie gebruik, gebruik mens lekker net so lekker baie. In Nederlands word lekker slegs ten opsigte van kos gebruik. Enigiets anders is 'leuk'. Soms kan mens ook 'goed' gebruik.
Voorbeelde:
Die vleis was lekker ==> Het vlees was lekker
Dit was 'n lekker dag ==> Het was een leuke dag
Vind julle dit lekker om te reis? ==> Vinden jullie reizen leuk?
Ek het lekker geslaap ==> Ik heb goed geslapen
3. Kry jou voornaamwoorde reg:
Voornaamwoorde: ek, jy, hy (of sy), ons, julle, hulle. Meestal dieselfde in Nederlands as in Afrikaans, al wat jy moet leer is dat 'ons' en 'hulle' onderskeidelik 'we' en 'zij' word. Die korrekte Nederlandse terme is:
ek = ik (spreek uit iek)
jy = je of jij
hy = hij, sy = ze of zij
ons = we of wij
julle = jullie (spreek uit soos die maand - julie)
hulle = ze of zij
*je, we, ze is neutraal. Vir beklemtoning gebruik mens jij, wij, zij.
In Afrikaans gebruik mens 'ons' as onderwerp (ons skop die bal), voorwerp (hulle skop ons) sowel as besittelike voornaamwoord (dit is ons bal). In Nederlands gebruik mens ook 'ons' in die laaste twee gevalle, maar in die eerste geval gebruik mens 'we' of 'wij'. Mense sal wel verstaan as jy sê "ons drink bier" - maar jy klink soos 'n driejarige. Dit is soos om in Engels te sê "us drink beer" in plaas van "we drink beer". Dis 'n maklike wenk - waar jy in Engels 'we' sou gebruik, moet jy in Nederlands 'we' gebruik. 'Us' vertaal steeds as 'ons'.
Voorbeelde:
Ons eet ==> We eten
Dit is ons huis ==> Dit is ons huis
Ons drink baie bier in België ==> We drinken veel bier in België
Hulle drink meer bier as ons ==> Ze drinken meer bier dan wij
4. Verbuig jou werkwoode:
Ek praat in meer diepte hieroor in die afdeling "Werkwoord verbuigings" - maar as jy nie tyd het vir detail nie, probeer ten minste die volgende vaslê:
Vir meervoudige voornaamwoorde, voeg 'n 'en' agter aan die werkwoord: Ik eet, wij eten. Jij loopt, jullie lopen. Hij slaapt, ze slapen. Het kind slaapt, de kinderen slapen. Dit val in die begin snaaks op die oor, ek weet! Maar as jy twyfel, voeg maar eerder 'n -en by...
Die mees gebruikte, en moeilikste, werkwoord om te verander is...is. Om te wees. Ek is, jy is, hy is, ons is, julle is, hulle is. Darem maklik né?
Probeer nou: om te wees = zijn ek is = ik ben jy is = jij bent hy is = hij is ons is = we zijn julle is = jullie zijn hulle is = ze zijn
Die woord 'is' is nie vir hulle onbekend nie - maar jy klink soos 'n twit. Om te sê "Ik is blij" is soos om in Engels te sê "I is glad".
Voorbeelde:
Ek is bly ==> Ik ben blij
Die kind is Nederlands ==> Het kind is Nederlands
Die kinders is Nederlands ==> De kinderen zijn Nederlands
Dit is lekker om hier te wees ==> Het is leuk hier te zijn
Julle is baie gaaf ==> Jullie zijn zeer gaaf
Jy leer Nederlands ==> Jij leert Nederlands
Julle leer Nederlands ==> Jullie leren Nederlands
Net vir die rekord - in Nederlands praat hulle van werkwoorde 'vervoeg', nie verbuig nie!
5. Pas jou uitspraak so 'n bietjie aan:
Niemand gaan 'n perfekte uitspraak in 'n week of twee - of selfs in 'n jaar of twee - aanleer nie. Maar dit gaan hier daaroor om jou verstaanbaarheid te verbeter - en daar is 'n paar klanke wat die verskil tussen 'n knik en 'n frons beteken.
Meer detail in die afdeling "Uitspraak" - hier net die nodigste:
ee-klank - soos in eet, see, veel. Spreek uit as ê. Bv: Ek wil iets eet ==> Ik wil wat eten (uitspr: êten)
a-klank - soos in Kaap, dag, bal. In Nederlands is -a- 'n oop, plat klank. Trek jou mondshoeke na jou ore toe as jy dit sê. Eintlik presies die teenoorgestelde van die Pretoria-Oos aksent (waaroor ons al goed en grondig gespot is hier in België!). Bv: Ons woon in Kaapstad ==> Wij wonen in Kaapstad (uitspr. Kââpstâd)
i-klank - spreek uit soos die Afrikaanse 'ie'. Bv: spreek die woord 'minder' uit as 'miender'
6. Nie so bietjie minder:
Die dubbele negatief - dit moet een van die belangrikste verskille tussen Nederlands en Afrikaans wees. Waar sou dit tog vandaan kom? Sommige sê Maleisiese invloed, ander dat Nederlanders wat in die Kaap geland het, begin 'nee' sê het aan die einde van elke sin om die negatief te beklemtoon. In Nederlands kan jy gewoon die laaste nie weglaat...
Voorbeelde:
Ek het nie 'n jas nie ==> Ik heb geen jas
Hy wil nie eet nie ==> Hij wil niet eten
Moenie op die bed spring nie! ==> Niet op de bed springen!
7. Vermy die volgende woorde:
'n Kort lysie van woorde wat gereeld voorkom in Afrikaans maar wat Nederlanders laat frons:
Kar ==> auto
Gebreek ==> kapot / stuk
Rekenaar ==> computer
Hoender ==> kip
Piesang ==> banaan
Naweek ==> weekend
Afrikaans ==> Zuid-Afrikaans (Afrikaans beteken van Afrika)
Stadig ==> langzaam, traag
Vinnig ==> snel / rap
Lemoen ==> appelsien / sinaasappel
Kyk verder ook onder 'woorde wat jy dink jy ken...'
8. So bestel jy...
Wat wil jy hê? So 'n ge-"hê-ery" verstaan die Nederlanders moeilik! Hê, in Nederlands, is 'hebben' in sy onvervoegde vorm. "Ek wil hierdie hê" word dus "Ik wil deze hebben".
Maar om die waarheid te sê, kan jy die hê meestal net los. As jy in 'n restaurant koffie bestel, kan jy dus sê "Ik wil een koffie alstublieft" of "Mag ik een koffie alstublieft?". Of in 'n winkel: "Ik wil deze parfum" of "Ik wil daardie chocolade".
9. Vra mooi en sê dankie
Asseblief - gelukkig word dit goed verstaan. Maar hulle spreek dit so bietjie anders uit: "al-sjt-u-blieft". Daar is dus 'n dik 'sj'-klank in die middel van die woord - net na die 'l'.
Daar nog iets wat vreemd is tov asseblief - hulle gebruik dit ook soos ons in Afrikaans "dis 'n plesier" sal gebruik. As 'n kelner byvoorbeeld jou koffie voor jou neer sit, en jy sê "dankie" sal hulle jou antwoord met "alstublieft!". Iets wat ek tot vandag toe nie kan doen nie - assebelief vra wanneer jy vir iemand iets aangee!
'Dis 'n plesier' in Afrikaans word vertaal as 'graag gedaan' in Nederlands:
"Bedankt voor de hulp!" ==> "Graag gedaan!"
Dankie is dankie. Dankie tog! Wel, eintlik is dit 'dank je' vir iemand wat jy goed ken, 'dank u' vir 'n vreemdeling. Dit klink darem min of meer dieselfde. Mens kan ook sê: "bedankt".
Dit raak bietjie moeiliker as mens wil sê "baie dankie". Jy onthou seker nog nommer 1??? As jy dankbaarder is as net 'n gewone dankie, sê dan "dank u wel", of "heel erg bedankt".
10. Leer so paar tipiese uitdrukkings
Ironies genoeg is dit juis die uitdrukkings wat mens gereeld in gesprekke gebruik wat verskil tussen Afrikaans en Nederlands. 'n Boom is 'n boom en 'n huis is 'n huis - maar daai 'tussen' woordjies, daai woordjies waarmee mens beaam wat iemand vertel, of simpatie uitdruk, of gelukwens - alledaagse gesprekwoordjies met ander woorde - hulle verskil.
En dis lastig. Dis lastig om met 'n mond vol tande te staan en nie mooi te weet hoe jy moet sê nie. Leer dus so paar tipiese uitdrukkings aan! Ek gee hier paar, vir meer kyk op die bladsy "Paar tipiese uitdrukkings":
Voorbeelde:
("Afrikaans" ==> "In Nederlans sê jy")
Hoe gaan dit? ==> Hoe gaat het? / Gaat het goed?
Is jy mevrou Van Rensburg? "Dis reg ja"/"Dis ek ja" ==> "Ja, dat klopt"/ "Ja, ik ben het"
Dis te koud vir die kinders om buite te speel. "Ja, jy's reg" ==> "Ja, je heb gelijk"
Wil julle more by ons kom kuier? "Ja dit sal lekker wees dankie" ==> "Graag, dank je wel"
Is 10 uur goed vir julle? "Doodreg" ==> "Prima"
Baie geluk met jou verjaarsdag! ==> Gefeliciteerd met jou verjaardag!
Geniet die vakansie! ==> Veel plezier met het vanaksie!
Totsiens ==> Dag!
Daarsy - 10 wenke, 10 kort lessies - hoop dit was relatief pynloos om te leer!
Ik hoop dat jouw Afrikaans al een beetje meer op het Nederlands lijkt. Spreek het maar zo vaak als je kunt, het komt wel goed! Veel succes!