Nederlands vir (Afrikaanse) dommies
 

Ek onthou nog toe ek my oudste laas jaar vir die eerste keer swemles toe gevat het. Groot was die verbasing toe hulle my sê ek mag nie saam met hom instap nie (hy was toe 4) - ek kan hom by die deur afgee aan 'n jong studentjie, saam met 9 ander kinders, dan kry ek hom weer in die aantrekhokkie 'n halfuur later. My verbasing het gou omgesit in hardnekkige weiering. Ek het my skoene uitgetrek, broek opgerol en agter die verbaasde studentjie aangeloop. Enigste ma in sig. 

Wat kan ek sê? As jy in Suid-Afrika kinders grootmaak is waterveiligheid hoog op jou lys van prioriteite. Almal ken iemand wat iemand ken wie se kind, nefie, of maatjie verdrink het. Water is die vyand. Altyd op jou hoede. Altyd verantwoordelik. 

En toe gebeur iets wat my laat besef ek bly nou in 'n ander plek. Ons kom terug by die aantrekhokkie, en een van die ma's vra vir die juffrou - "en waar is mijn jongetje dan?". 'n Kind is weg! Snak na my asem, reg om te gaan soek, paniek. Water, kind, alleen, sonder toesig, water - paniek! 

Nee hoor. Oops, sê die studentjie, hy moes seker iewers afgedwaal het. Sy sal kyk of sy hom kry. En sy drentel rustig die gang af, terug swembaddens toe. 

Rustig. Sonder haas. 

En die ma? Die knoop maar weer 'n geselsie aan met die ma langs haar. Arms gevou. 

Rustig. Sonder paniek. 

Eers 5 minute later, minimum, kom die student terug met die verlore kind. Nee, sy't hom by die ander aantrekhokkies gekry. Hy't seker agter ander kinders aangeloop. Haha, sê die ma, hy's darem maar lekker verstrooid. Haha. 

Psychos! 

Maar die tyd gaan verby en mens pas aan. In 'n plek waar paranoia nie 'n bestaansreg het nie raak mens vinnig gemaklik. Mens vertrou. Mens leer vertrou. Mens vertrou die sisteem, mens vertrou die mense. Jy gee jou verantwoordelikheid oor aan 'n ander. Jy laat gaan. Die eerste keer haal mens diep asem en knyp jou oë toe en laat huiwerig los. En dan as jy dit genoeg keer doen, word dit mettertyd jou nuwe normaal. 

Fast forward 18 dus maande. Dinsdagaand tien voor sewe. Tyd vir ons weeklikse swemles. Oudste is nou al amper 6, jongste 4. Trek aan, wag in ons hokkie. Die juf kom verby. Sien jou later seun! Daar gaan die een. En 2 minute later die ander. Ek vat my handsak, loop agter die ander ouers aan. Boontoe, kafeteria toe. Vandaar het mens 'n mooi uitsig op die swembad, kan jy sit en dophou hoe so 80 kinders van verskillende ouderdomme in verskillende bane aan die oefen is. Daar sit ek en kyk. Rustig. Geen paniek. Bier in die hand.

Bier? Ja hoor, dit is België after all. Hoe dan anders? 

My nuwe normaal. 
12/14/2010

Oulik hoor! Ek het al die inskrywings baie geniet. Jy skryf vloeiend en onderhoudend.

Reply
6/24/2012

I'm just browsing around your site for the first time, interesting read

Reply

Your comment will be posted after it is approved.


Leave a Reply.